News 24, South Africa
By Paul Boekkooi
Diepgewortelde volksmites word hier maklik verteerbare sprokies waaraan die Disney-etiket trots hang. Dit is die soort behandeling wat Swan Lake on Ice kry, ’n werk gegrond op een van die mees legendariese balletverhale, geskryf deur Wladimir Begitsjef, met musiek deur Tsjaikowski en die uiteindelike choreografie met ’n verkorte verhaalstruktuur deur Marius Petipa.
Die Russiese tradisie van dié werk leef nou voort in die tegnies formidabele skaatswerk, volledig op ’n Olimpiese peil en daarbenewens innoverend en waaghalsig. Ek het al fabelagtige ysskaatstoertjies gesien wat van groot vernuf getuig, maar selde van die standaard van dié nagenoeg twee dosyn Russiese skaatskampioene wat die asem so onophoudelik wegslaan.
’n Mens moet eenvoudig erken dat die invloed wat dié soort bewegingsvirtuositeit op die produksie het tegelykertyd die soetlikheid teenwerk.
Deur die magiese verlore te laat gaan deur Odette en Odile as twee verskillende dansers uit te beeld, word die 21ste-eeuse mens wat dalk sukkel om sulke moeilik verklaarbare transformasies (!) te begryp, dalk gehelp.
Hieruit kan die puris aflei dat die verhaal soms aansienlik aangepas is. Ook die verloop daarvan is gestroomlyn, terwyl dele uit Tsjaikowski se musiek uitgesny of aansienlik verwerk is. Daar is, teen die verwagting in, of juis nié, enkele musikale invoegings waarvan die soetlikheid selfs die komponis op sy heel soetste transendeer. Ons het enige oomblik verwag dat Bambi en haar kroos hul verskyning tussen die swane in die bos sou maak of dat Peter Pan sou verbyvlieg. Terloops: Odette (Olga Sjaroetenko) dóén dit!
Die Russiese skaatsers se onvergelykbare prestasies is die element wat dié produksie aandryf. Van elke karakteristieke nasionale dans in of buite die paleis word iets buitengewoons gemaak en die dansers/skaatsers se passie vir en konsentrasie op alles wat hulle doen wankel nie ’n enkele oomblik nie.
Benewens die reeds genoemde visuele hoogtepunte, is daar ’n ware “ring van vuur” op die ys waarin Rothbart (’n baie sterk karaktervertolking) vasgevang word, mistige en tegelyk magiese bostonele, asook ’n finale en ’n encore wat die geselskap as geheel se fyn uitgewerkte ensemblebewegings demonstreer: waarlik te veel om op te noem. Die kostuums, geplaas in die Romanof-tydperk, is oorspronklik en duursaam.
Andrei Penkine as ’n ondeunde en ondernemende Benno het byna daarin geslaag om die glans van Wadim Jarkof se Prins Siegfried te verdof. Laasgenoemde was ten minste op sy beste in die geveg om lewe en dood tussen hom en Rothbart.