Reviews

‘Neutkraker’ vars en nuut as ysfantasie

12 Dec 11 - Beeld - Anna-Retha Bouwer

Om die Neutkraker in een of ander vorm oor die Kerstyd te sien is nie nuut nie. Sedert dié ballet die eerste keer in Desember 1892 in St. Petersburg opgevoer is, bly dit vanweë die Kersfees-milieu stapelkos op elke Kerstafel.

The Nutcracker on Ice bied ’n nuwe en vars element aan die ou, bekende verhaal. Visueel is die produksie reg van die val van die eerste sneeuvlokkie ’n fees.

Wat dit veral laat slaag, is die vernuftige gebruik van beskikbare teatertegnologie. ’n Mens wil nie te veel verklap nie, maar die dansers laat hulle nie aan die ys bind nie. Die indrukwekkende Arabiese lugdans in die tweede helfte is maar net een voorbeeld.

Verder word daar die meeste gemaak van skerms, ligte en genoeg sneeu sodat die “kinders” in die openingstoneel mekaar selfs met sneeuballe kan takel.

Dit is ook die aandag aan detail wat verstom – die liggies in die Kersboom verlig en ’n vuurtjie knetter in die vuurherd.

Die kostuumontwerp help om die prentjie met kwistige kleurgebruik verder in te kleur, soos in die Blommewals in die tweede helfte.

Die Imperial Ice Stars was op die media-aand foutloos. Die kreatiewe vryheid wat die verhoog bied, gee aan hulle die geleentheid om hul vaardighede met karakterbeelding te meng en dit is ’n kans wat hulle geesdriftig aangryp.

Dit is veral dr. Pavlov (Vo­lo­dymyr Khodakivskyy) se passies wat ’n mens amper duiselig laat. Drosselmeyer (Vadim Yarkov) kry dit reg om ’n gevoel van onheil te skep met sy toorkunsies, wat nie net die verhoogkarakters nie, maar ook die gehoor na hul asem laat snak het.

Marina Davydova beïndruk met haar soepelheid as die neutkrakerpop. Trouens, ’n mens besef nie dadelik dat dié karakter nié ’n pop is nie. Die toneel waarin die stout seuns met die pop speel tot hy breek, is choreografies knap.

Tussen Marie (Anastasia Ignatyeva) en haar neutkrakerprins, Bogdan Beresenko, is daar geloofwaardige energie en hulle maak ’n sierlike danspaar.

The Nutcracker on Ice bring vir ons aan die warm puntjie van Afrika die naaste aan die betowering van ’n spierwit Kersfees as wat kan kom.

’n Mens is nie altyd seker wat dit is wat jou so hoendervleis gee nie – Tsjaikofski se bekende musiek, die on­be­teueld­heid van die dansers se talent of die visuele impak.

Maar dis vir seker meer as die koue luggie wat van die ysskaatsbaan af kom!

Bookmark and Share

Back |  | 

 

Upcoming show dates

 
  Cinderella on Ice